

Hierdie is nie ’n reisvideo met perfekte hoeke of kwaliteit nie - en dis presies hoekom ons dit so liefhet. Alles is afgeneem met Armand se pa se ou videokamera (verskoon asseblief die entoesiastiese, maar soms twyfelagtige kameramanskap 😄).
Die beeldkwaliteit mag dalk swak wees, maar die herinneringe is vir altyd ingebrand. Die wegbreek was ’n verjaarsdagverrassing vir Marné. Ons het ’n tent by vriende geleen en Armand het alles in stilte beplan.
Dag 1: Van Ellisras na Nata — ’n rustige pad deur die droë Bosveld, mopanies so ver as die oog kan sien. Afrika het daardie tyd letterlik geskree vir reën. By Elephant Sands was dit olifant-hemel: reuse wat rustig tussen ons deurstap, water drink en hulself natspat. Terwyl ons gebraai het, het olifante verby ons geloop — een klein kalfie het selfs teen Armand verbygeskuur, met ’n koei net ’n paar tree agter Marné. Heilige grond.
Dag 2: Nata na Kasane via Pandamatenga en Hunters Road - ’n pad wat sing. Letterlik. Die sonbesies was in volle koor. By Senyati koel ons eers voete af, voor Marné se verjaarsdagverrassing: ’n sonsak-bootrit op die Chobe-rivier. Onbeskryflik mooi. Diere só naby dat mens amper vergeet om asem te haal.
Dag 3: ’n Rustige, liggies reënerige dag in die Chobe Nasionale Park. Ons kamp by Ihaha No. 9 - vleilande soos ’n skildery. Zebras, olifante, rooibokke, buffels. ’n Krokodil wat amper ’n rooibok vang. Olifante wat staan en slaap. Stilte wat praat.
Dag 4: Op pad terug sien ons ’n luiperd wat in ’n boom lê en slaap, ’n hiëna en jakkals wat mekaar jaag en toe -’n leeu. Ons sluit weer af by Elephant Sands, hierdie keer in die reën, maar met vol harte.
Dag 5: Met swaar harte ry ons terug. Ons wens ons kon bly in die plek waar olifante oor die snelweë loop en tyd stadiger beweeg.
























